As sy heer aan hom ʼn vrou gee, en sy vir hom seuns of dogters baar, dan moet die vrou met haar kinders haar heer se eiendom wees terwyl hy alleen vrygelaat word.
Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as vryman weggaan nie-
dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met ʼn els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien.
En as iemand sy dogter as slavin verkoop, dan mag sy nie soos die slawe weggaan nie.
As sy sleg beval in die oë van haar heer wat haar vir homself bestem het, dan moet hy haar laat loskoop. Hy is nie geregtig om haar aan ʼn vreemde volk te verkoop nie, omdat hy troueloos met haar gehandel het.
Maar as hy haar vir sy seun bestem, dan moet hy met haar handel volgens die reg van die dogters;
En as manne twis en die een die ander slaan met ʼn klip of met die vuis, sodat hy nie sterwe nie, maar bedlêend word-
as hy weer opstaan en buite met sy stok rondloop, dan moet hy wat geslaan het, ongestraf bly; net sy tydverlies moet hy vergoed en sorg dat hy heeltemal gesond word.
En as iemand sy slaaf of slavin met ʼn stok slaan, dat hy onder sy hand sterwe, dan moet dit sekerlik gewreek word.
En as manne met mekaar veg en ʼn swanger vrou so stamp, dat haar vrug afgaan, maar daar geen ander letsel is nie, moet hy sekerlik boete betaal soos die man van die vrou hom dit oplê, en hy moet dit deur skeidsregters gee.
Maar is daar ʼn letsel, dan moet jy gee lewe vir lewe,
oog vir oog, tand vir tand, hand vir hand, voet vir voet,
En as ʼn bees ʼn man of ʼn vrou stoot, sodat hy sterwe, moet die bees sekerlik gestenig word; en sy vleis mag nie geëet word nie, maar die baas van die bees sal ongestraf bly.
Maar as die bees tevore al stoterig gewees het, en sy baas gewaarsku was, maar dit nie opgepas het nie, en dit ʼn man of ʼn vrou doodmaak, moet die bees gestenig word, en sy baas moet ook doodgemaak word.
En as iemand se bees die bees van ʼn ander stoot, sodat dit sterwe, dan moet hulle die lewendige bees verkoop en die geld daarvan verdeel; en die dooie een moet hulle ook verdeel.
Of as dit bekend was dat die bees tevore al stoterig gewees het, en sy baas dit nie opgepas het nie, dan moet hy ten volle bees vir bees vergoed; maar die dooie een moet syne wees.