Afrikaans-1933/4/10

37 lines
4.4 KiB
Plaintext

Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê:
Maak vir jou twee silwertrompette; van dryfwerk moet jy dit maak; en hulle moet vir jou dien om die vergadering bymekaar te roep en om die laers te laat opbreek.
As hulle dan daarop blaas, moet die hele vergadering by jou bymekaarkom by die ingang van die ingang van die tent van samekoms.
Maar as hulle op een daarvan blaas, moet by jou bymekaarkom die owerstes van die stamhoofde van Israel.
En as julle alarm blaas, dan moet die laers opbreek wat aan die oostekant staan.
En as julle die twede keer alarm blaas, dan moet die laers opbreek wat aan die suidekant staan. Alarm moet hulle blaas as hulle moet opbreek.
Maar as die vergadering by mekaar moet kom, moet julle blaas, maar die alarm nie maak nie.
En die seuns van Aäron, die priesters, moet op die trompette blaas; en dié moet vir julle ʼn ewige insetting in julle geslagte wees.
En as julle in jul land in oorlog kom teen die vyand wat vir julle beveg, moet julle met die trompette die alarm blaas; dan sal aan julle gedink word voor die aangesig van die HERE julle God, en julle sal van jul vyande verlos word.
Op die dag as julle vrolik is sowel as op julle feestye en by die begin van julle maande moet julle op die trompette blaas by jul brandoffers en by jul dankoffers: hulle sal dien om julle in gedagtenis te bring voor die aangesig van julle God. Ek is die HERE julle God.
In die twede jaar, in die twede maand, op die twintigste van die maand, het die wolk opgetrek van die tabernakel van die Getuienis af.
En die kinders van Israel het ná mekaar weggetrek uit die woestyn Sinai; en die volk het gaan rus in die woestyn Paran.
So het hulle dan die eerste keer weggetrek volgens die bevel van die HERE deur Moses.
En die eerste het weggetrek die vaandel van die laer van Juda se kinders volgens hulle leërafdelings; en oor sy afdeling was Nagson die seun van Ammínadab.
En oor die afdeling van die stam van Íssaskar se kinders was Netáneël, die Suar.
En oor die afdeling van die stam van Sébulon se kinders was Elíab, die seun van Helon.
Toe is die tabernakel afgebreek en die seuns van Gerson en die seuns van Merári, die draers van die tabernakel het weggetrek.
Daarna het weggetrek die vaandel van die laer van Ruben volgens hulle leërafdelings; en oor sy afdeling was Elísur, die seun van Sedéür.
En oor die afdeling van die stam van Símeon se kinders van Selúmiël, die seun van Surísaddai.
En oor die afdeling van die stam van Gad se kinders was Élijasaf, die seun van Déhuel.
Daarna het die Kohatiete, die draer van die heiligdom, weggetrek, en die ander het die tabernakel opgerig voordat hulle aangekom het.
Daarna het weggetrek die vaandel van die laer van Efraim se kinders volgens hulle leërafdelings; en oor sy afdeling was Elisáma, die seun van Ammíhud.
En oor die afdeling van die stam van Manasse se kinders was Gámliël, die seun van Pedásur.
En oor die afedling van die stam van Benjamin se kinders was Abídan, die seun van Gideόni.
Toe het weggetrek die vaandel van die laer van Dan se kinders wat, volgens hulle leërafdelings, die agterhoede vir al die leërs was; en oor sy afdeling was Ahisiër, die seun van Ammísaddai.
En oor die afdeling van die stam van Aser se kinders was Págiël, die seun van Ogran.
En oor die afdeling van die stam van Náftali se kinders was Ahíra, die seun van Enan.
Dit is die optogte van die kinders van Israel volgens hulle leërafdelings. En hulle het weggetrek.
En Moses het vir Hobab, die seun van Réhuel, die Midianiet, die skoonvader van Moses gesê: Ons trek na die plek waarvan die HERE gesê het: Ek sal dit aan julle gee. Trek saam met ons en ons sal aan jou goed doen; want die HERE het oor Israel goeie dinge gespreek.
Maar hy het vir hom gesê: Ek sal nie saamtrek nie; maar ek sal na my land en my famielie gaan.
Toe sê hy: moet ons tog nie verlaat nie, juis daarom dat jy weet hoe ons laer moet opslaan in die woestyn, en jy sal vir ons as oë dien.
En as jy met ons saamtrek, sal ons daardie goeie wat die HERE aan ons sal doen, ook aan jou doen.
En hulle het van die berg van die HERE af drie dagreise getrek; en die verbondsark van die HERE het drie dagreise ver voor hulle uit getrek om vir hulle ʼn rusplek uit te soek.
En die wolk van die HERE was bedags oor hulle as hulle uit die laer wegtrek
En as die ark weggtrek het Moses gesê: Staan op HERE, dat u vynade kan verstrooi word, en u haters voor u aangesig kan vlug.
En as dit rus het hy gesê: Keer terug HERE, na die tienduisende van die stamme van Israel.